Malawi Kayak Enduro | Day 1

Malawi Kayak Enduro | Day 1

Dag 1 – Dalk moet ons nou omdraai?

Na ongeveer 15 maande se beplanning het ons toer uiteindelik begin. En soos gewoonlik moes ons weer van voor af leer dat die mees deeglike beplanning nooit genoeg sal wees om mens voor te berei vir alles wat op die laaste minuut kan verander nie.

Ons het 3:30 vertrek uit Nelspruit uit, vasbeslote om deur die Beitbrug grenspos te gaan, selfs al moet ons ons pad met roeispane deur veg! Ongelukkig was ons skaars deur Witrivier toe Indaba se toer operateur ons ingelig het dat Zim nie meer ‘n opsie is nie. Die grenspos was nog steeds gesluit weens die betogings. Ons het vir ‘n oomblik oorweeg om deur Botswana te ry en toe eerder omgedraai in die rigting van Mosambiek, aangesien ons die grenspos goed ken en dit ons nie noodwendig ‘n dag ekstra gaan kos nie.

Teen 6:30 was ons in Komatipoort, reg voor die Wimpy vir ons laaste SA-ontbyt. In retrospek was dit dalk nie die slimste idee nie, aangesien die Lebombo grenspos gewemel het van die mense teen die tyd wat ons daar aangekom het. Die grenspos het ons ten minste 2 ure gekos. Dan, gekombineerd met ‘n verkeerde afdraai in Maputo asook die normale daaglikse chaos, het ons uiteindelik so baie tyd verloor dat ons duskant 14:00 uit Maputo uit is. Ons kon darem stop vir ‘n verfrissende 2M (Dosh-em) bier voor ons gemik het om Xai-Xai te haal voor donker.

In Xai-Xai aangekom, was dit eers ‘n geskarrel van die garage na die plaaslike Shoprite om seker te maak ons het al die bestanddele vir die aand se hamburgers. Van hier het ons beplan om na Praia de Xai-Xai te gaan om te gaan kamp langs die see. Weer het ons die verkeerde afdraai gevat in Xai-Xai, maar te danke aan die uitmuntende trurat-vermoë van die trokbestuurders kon ons die gramadoelas verlaat om die hoofpad te gebruik om daar uit te kom. Asof daar nie genoeg skeefgeloop het op een dag nie, moes ons by die beplande kampplek leer dat die plek nie juis meer bestaan nie en so te sê platgeval het (die een strooidak het letterlik platgeval!). In ‘n oomblik van briljantheid het ‘n paar van die ouer manne besluit hulle gaan onderhandel met die hotelbestuurder waarlangs ons trok stilgehou het. Tot ons uiterse teleurstelling (ek jok nou) moes ons hoor dat die kamers reeds geboek is en ons die aand in ‘n hotel moet spandeer en ons dus nie die reëndruppels en wind teen die tentseile gaan hoor die aand nie. Ons het maar ons lot aanvaar en na ons die sakke in die kamers gaan laai het, het ons die hamburgers begin voorberei op die voorstoep van die hotel. Neem net hiermee kennis dat alhoewel ons vanaand in ‘n hotel slaap, dit nie ons enigsins minder hardebaard avonturiers maak nie. Dis net een aand, so gun dit vir ons!

More sal ons vroeg op wees sodat ons teen 5:00 kan vertrek om die weermagkonvooi op Inhasorro betyds te haal en hopelik more aand op Chimoio te oornag. Dit sal 960km in een dag wees, terwyl ons vandag skaars 370km kon beweeg! Dis natuurlik ook as die trok dit ongedeerd deurmaak deur die Renamo-geteisterde gebied. Maar ons sal weereens reg wees op ons pos en vertrou ons roeispane sal die manne afskrik!

Hou ons dus in julle gebede more en ek gee dan weer terugvoer op die volgende groot dorp.

Groete, die hardebaard avonturiers en oom Kobus.

/ News

Share the Post