Malawi Kayak Enduro | Day 2

Malawi Kayak Enduro | Day 2

Dag 2 – En toe klap die skote; Twee minder ernstige beserings volg

Aangesien die grootste deel van die dag op die pad spandeer is, sou daar dalk nie verskriklik baie wees om oor huis toe te skryf nie. Soos beplan is ons net na 4:00 op vir koffie, beskuit en Future Life voor ons vertrek. Die kos was dalk genoeg, maar die slaap definitief te min en dus het ons talle ure deur die dag geslaap terwyl ons al waggelend na die volgende bestemming, Chimoio, gereis het.

Soos ons Afrikaners nou maar is, het ons hard probeer om ‘n grapperige en ligte atmosfeer te skep om die sogenaamde Renamo rooisone se kommer te demp. Daar was heelwat brugspel rondtes gemeng met uit-die-maag-uit lagsessies en soet Laeveld lemoene op die pad. Verder was ons spandokter ook hoogs ontsteld toe hy moes hoor dat ons gemaklik is met die diagnose van Bilharzia en nie bewus is daarvan dat dit eerder die prognose is wat belangrik is nie!

Die idee van die vroeg opstaan was om so ver moontlik te beweeg om sodoende die Savé rivier te bereik teen 13:00. Die weermagkonvooi sou teen die tyd vertrek. Deur die genade van die Here was ons net-net betyds, al het ons letterlik eers teen 14:30 daar aangekom. Omdat ons trok passasiers vervoer, het hulle ons gevra om tot heel voor in die konvooi te beweeg waar die Casper (weermagvoertuig) met 10 soldate ons sou begelei. Of dit ter wille van ons veiligheid was of om ons as prooi bloot te stel weet ons nie! Darem was ons nader aan die aksie.

Die konvooi het begin beweeg. Daar was aanvanklik stilte. Ons het gemaklik begin raak. Vanuit die regterkant het daar ongeveer 20 skote geklap. Ons almal (behalwe die ou met die geel hemp!) het oombliklik platgeval op die vloer van die bus terwyl Reinier die trok versnel het tot waar die ingeboude reguleerder ons beperk het op 108 km/hr. Die Casper het voor ons omgedraai en terug gejaag na waar die skote geklap het. Ons was dus op ons eie.

Van hier af was dit elke man vir homself en die busse en trokke het verby ons gejaag wat dit laat lyk het asof ons parkering soek. ‘n Betroubare ooggetuie het gepraat van koeëlgate op die busse wat ons verbygesteek het. Dit was skaars 5 min en almal was weer terug op hul sitplekke, terug in die grapperige en gemaklike luim. Ons het wel vir so 20 min gesukkel om Armandt onder uit die tafel uit te kry! Daar was beserings, maar darem nie weens die koeëls nie. Eerder te wyte aan ons skielike platval op die busvloer! Soos die hoeveelheid uitgebrande buswrakke verminder het, het ons geweet ons beweeg uit die gevaarsone uit. Die Here se genade was definitief oor ons! En Sy wysheid en insig was vir seker met ons trokdrywers.

Van hier af het ons nog ‘n lang pad oorgehad tot by die volgende groot dorp, Inchope. Ons het so uur na donker in Inchope aangekom en begin rondvra vir slaapplek. Baas Jacobs (ander oom Kobus) het ‘n sterk vermoede gehad van ‘n plek op die Gorongoza pad en ‘n SA trokdrywer kon dit vir ons bevestig. As dit net so maklik was! Vandat ons by hierdie plek aangekom het, moes ek poog om vir ons plek te bespreek in my baie gebroke Portugeus. As jy een of twee woorde ken, neem hulle sommer aan jy kan die taal vlot praat! Ongeveer 2 ure later het ons darem betaal en ons kon gaan inkruip vir so 4 ure se slaap. Dis nou as die bed bugs nie oom Kobus as ‘n voertuig gesien het om te migreer na ‘n volgende gebied toe nie.

Ons het nou nie Chimoio gehaal nie, maar ons het darem 900 km vir die dag afgelê. Die volgende dag sal ons 780 km moet aflê mét ‘n lang konvooi asook die moeilike Mwanza grens…

/ News

Share the Post